| Chapter 1 |
1 |
Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, -
|
2 |
om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan, -
|
3 |
om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid; -
|
4 |
om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg; -
|
5 |
laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry, -
|
6 |
om 'n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels. -
|
7 |
Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug. -
|
8 |
My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; -
|
9 |
want dit is 'n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals. -
|
10 |
My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie; -
|
11 |
as hulle sê: Gaan saam met ons, laat ons loer op bloed, laat ons die onskuldige voorlê sonder oorsaak, -
|
12 |
laat ons hulle lewendig verslind soos die doderyk en die gesondes soos die wat in die kuil neerdaal; -
|
13 |
allerhande kosbare goed sal ons vind, ons huise sal ons vol maak met buit; -
|
14 |
jy sal jou lot onder ons werp, ons sal almal een beurs hê -- -
|
15 |
my seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad; -
|
16 |
want hulle voete hardloop na die kwaad en haas hulle om bloed te vergiet; -
|
17 |
want die net word tevergeefs uitgesprei voor die oë van allerhande voëls: -
|
18 |
so loer hulle op hul eie bloed, hulle lê hulleself voor. -
|
19 |
So gaan dit met almal wat onregverdige wins maak: dit ontneem sy besitter die lewe. -
|
20 |
Die Wysheid roep hardop daarbuite, sy verhef haar stem op die pleine, -
|
21 |
op die hoek van die rumoerige strate roep sy, by die ingange van die poorte, in die stad, spreek sy haar woorde: -
|
22 |
Hoe lank sal julle, eenvoudiges, die eenvoudigheid liefhê en die spotters lus hê om te spot en die dwase kennis haat? -
|
23 |
Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak. -
|
24 |
Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie, -
|
25 |
en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie, -
|
26 |
daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom; -
|
27 |
as julle verskrikking kom soos 'n onweer, en julle ondergang soos 'n stormwind aankom, as benoudheid en angs julle oorval. -
|
28 |
Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. -
|
29 |
Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie, -
|
30 |
van my raad nie wou weet nie, al my teregwysinge verag het, -
|
31 |
daarom sal hulle eet van die vrug van hulle wandel en versadig word van hulle planne. -
|
32 |
Want hulle eie afkerigheid maak die eenvoudiges dood, en hulle eie sorgeloosheid rig die dwase te gronde; -
|
33 |
maar die wat na my luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil. -
|