| Chapter 4 |
1 |
Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. -
|
2 |
Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; -
|
3 |
en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. -
|
4 |
Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. -
|
5 |
Hulle is uit die wêreld; daarom praat hulle uit die wêreld, en die wêreld luister na hulle. -
|
6 |
Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling. -
|
7 |
Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. -
|
8 |
Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde. -
|
9 |
Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. -
|
10 |
Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as 'n versoening vir ons sondes. -
|
11 |
Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. -
|
12 |
Niemand het God ooit aanskou nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. -
|
13 |
Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het. -
|
14 |
En ons het aanskou en ons getuig dat die Vader die Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het. -
|
15 |
Elkeen wat bely dat Jesus die Seun van God is -- God bly in hom, en hy in God. -
|
16 |
En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom. -
|
17 |
Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. -
|
18 |
Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. -
|
19 |
Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. -
|
20 |
As iemand sê: Ek het God lief -- en sy broeder haat, is hy 'n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? -
|
21 |
En hierdie gebod het ons van Hom dat hy wat God liefhet, ook sy broeder moet liefhê. -
|